http://www.netwerk24.com/ZA/Eikestadnuus/Nuus/nuwe-verbypad-kan-verkeersdruk-verlig-20170301-2 Nuwe verbypad kan verkeersdruk verlig Deur Danie Keet 06 Maart 2017 06:00 Die haalbaarheid van 'n westelike verbypad om Stellenbosch, wat die lewe vir Stellenbosse padgebruikers aansienlik sal verbeter, word tans ondersoek. Die verbypad, met twee dubbelbane in elke rigting, oor 'n afstand van sowat 13 km en teen 'n beraamde koste van meer as R800 miljoen, sal baie daartoe bydra dat die verkeersdruk in en om die dorp verlig word. 'n Span konsultante wat tans verkeersingenieurs, stadsbeplanners en omgewingskundiges insluit, is versoek om die aanvanklike ondersoek te onderneem. Die korridor waarbinne die beplande westelike verbypad belyn gaan word, is onlangs bepaal en aanvanklike onderhandelinge met grondeienaars en belanghebbendes is begin. Talle studies oor die impak van hierdie pad sal binnekort begin en dit sluit in verkeersmodulering, ekonomiese evaluering, asook erfenis en omgewingsimpakstudies. "Die verbypad sal in die omgewing van die Mooibergepadstal begin en word wes van die bestaande R44 beplan. Die roete vloei rofweg agterom die Stellenboschvliegveld, De Zalze, Tegnopark en verby die Vredenburgplaas, oor die bestaande Adam Tasweg, en agterom Middelvlei en Kayamandi, totdat dit weer effe noord van die aansluiting na Welgevonden op die R304 aansluit, het Jan Janse van Rensburg van TV3 Architects and Town Planners ges^e. Die fokus op die westelike verbypad sal op ononderbroke verkeersvloei wees, met 'n ontwerpspoed van 100 km / h. "Die spesifieke belyning van die pad sal nog verfyn word, maar die meer as 12 grondeienaars wat hierdeur geraak gaan word, is reeds ingelig en geleentheid vir inspraak gegee. "Tot dusver is goeie samewerking gekry en die deelnameproses duur voort. Gegewe die funksie van die pad om deurverkeer óm die dorp te gelei, behoort die pad 'n provinsiale status te h^e en sal dit motivering vir befondsing deur die provinsiale regering regverdig." "Die hoofdoel van die projek is om mobiliteit in en om Stellenbosch te verbeter. Die nuwe verbypad sal motoriste wat van SomersetWes af by die N1 wil kom en andersom, toelaat om sonder onderbreking verby die dorp te reis. Tans moet motoriste deur meer as 'n dosyn interseksies in die dorp worstel. Toegang tot Tegnopark sal ook vergemaklik word deur 'n nuwe suidelike skakelpad wat die R44 met die nuwe westelike verbypad sal verbind. Daar word ook gekyk na 'n oostelike skakelpad wat verbeterde skakeling tussen die dorp, Paradyskloof, Brandwacht en Dalsig, asook die R44 sal skep, s^e hy." Volgens Janse van Rensburg sal die projek in fases aangepak word en kan dit langer as 7 jaar duur voordat die hele projek voltooi is. "Talle studies, insluitend 'n deeglike ekonomiese ondersoek en volledige omgewingsimpakstudies, kan eersdaags begin. 'n Span konsultante sal dan aangestel word om die projek verder te bestuur." "Die projek sal groot verligting bring vir die daaglikse verkeersknope aan die suide en noordekant van Stellenbosch." "Verkeersdruk in die middedorp behoort ook in samehang met verskeie beplande interseksieopknappings hierby te baat, aangesien die deurverkeer in die dorp aansienlik kan verminder."