Friends of Stellenbosch Mountain

FSM Home       Documents       News       Legal       Climate       Environment      Solutions

Moontlike deurpad kwel inwoners

Die oorspronklike artikel verskyn hier.

Deur Danie Keet 20 Mei 2019 06:00

Die moontlike roete van ’n oostelike verbypad.

Inwoners van Paradyskloof en Brandwacht is bekommerd oor die moontlike bou van ’n groot deurpad deur die woonbuurte teen die hange van Stellenboschberg.

Die oostelike verbypad is al lank ’n sensitiewe onderwerp van bespreking en het nou weer nuwe momentum gekry nadat ’n ontwikkelaar ’n voornemende huiskoper afgeraai het om in sekere dele van Paradyskloof en Brandwacht eiendom te koop aangesien die pad nou ’n sterker moontlikheid geword het.

Volgens Hans Eggers, ’n inwoner van Paradyskloof, lid van Friends of Stellenbosch Mountain en bekende in vervoerbeplanningskringe in Stellenbosch, het rooi ligte begin flikker toe dit aan die lig gekom het dat R2 miljoen begroot is vir die verlenging van Wildeboschstraat oor die KWV-gronde na Trumalistraat.

“Hierdie verlenging sal ’n gedeelte van die oostelike verbypad (OVP) voorstel. Die algemene roete is al in die 1990’s vasgelê. Die pad sou oorkant die ingang na Tegnopark begin en via ’n aansluitingspad na die Wildeboschpad lei, en van daar verder oor die KWV-gronde loop, van Trumaliweg na Dalsig in die rigting van die proefplaas en die res van die dorp.

“Soos elke jaar sal die Raad op 29 Mei die nuutste weergawe van die geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) en die munisipale ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (GOP of die MSDF) oorweeg.

“Die nuwe IDP en MSDF is meesal goed, maar in die onlangse openbare deelnameprosesse het drie kwessies vorendag gekom wat rede vir skeptisisme of selfs opstand behoort te gee.

“Op die laaste oomblik het ’n item in die konsep-begroting (MTREF) bekend geraak wat direk verband hou met die oostelike verbypad. In die MTREF self word dit “Schuilsplaat Road Link” genoem, maar dit is toe na “Eastern Link Road Wildebosch-Trumali Road” verander en so op ’n openbare vergadering aan lede van Wyk 21 voorgelê. Die aansluitingspad na Schuilsplaatsstraat verwys na ’n verlenging van Schuilplaatsstraat en die laaste, ’n verwysing na ’n verlenging van Wildeboschstraat wat ’n gedeelte van die finale OVP sou voorstel. Verandering van die item se bewoording beteken dus verandering van die roete self.

“Die verbinding van Wildeboschstraat (groen lyn op die meegaande kaart) met die verlenging (rooi lyn) sou twee van die vyf gedeeltes van ’n volledige oostelike verbypad voorstel; al wat dan nog sou oorbly, is die persgekleurde Tegnopark-Wildebosch gedeelte en die pers Trumali-Dalsig-proefplaasgedeeltes. Die enkele Wildebosch-Trumali-gedeelte sou geen sin maak tensy dit later so voltooi word nie.”

Volgens Eggers word die OVP nêrens in die MSDF genoem nie, maar word dit nou by die agterdeur ingebring. Dit is ’n oortreding, want die MSDF, saam met die vervoerplan (CITP) en die IDP, is juis veronderstel om die raamwerk te wees waar groter veranderinge van infrastruktuur uitgewys en gemotiveer behoort te word.

Eggers meen die munisipaliteit sal so sy eie IDP en MSDF ignoreer as die OVP as ’n klein begrotingsitem sonder bespreking of inagneming van die oorhoofse planne ingevoer word.

“Dit lyk asof besluitneming gegrond is op eenvoudige berekenings wat uitsluitlik motorverkeer in ag neem en slegs staatmaak op die sogenaamde Roads Master Plan (RMP). Die RMP het egter geen regstatus nie en is ondergeskik aan die bepalings van die algemene wetgewing, die IDP en MSDF.”

Volgens Eggers is die onverklaarbare verskyning van die grens van stedelike uitbreiding in die omgewing van die voorgestelde pad ook problematies. “Die insluiting van die bogedeelte van Brandwachtplaas, asook ’n 20 ha-gedeelte van renosterveld rondom die Paradyskloof-waterwerke, word nêrens in die MSDF gemotiveer of bespreek nie. Dit sou in konflik wees met die MSDF se eie beginsels en die MSDF se klem op verdigting en uitbreiding in noord- en suidweswaartse rigtings.

“Soos op die kaart uitgewys hang OVP en die stedelike uitbreiding nou saam: uitbreiding van die stedelike grens sal die bou van die oostelike verbypad bevorder en omgekeerd.

“Stellenbosch staan by die kruispad. Nuwe infrastruktuur soos paaie en die stedelike grens bepaal oor dekades heen die struktuur en groeipatrone van die dorp. Die algemene wetgewing, asook ons IDP en MSDF, is duidelik: bevorder openbare vervoer, beskerm natuurareas, ondersteun die armes. Die OVP en die Brandwacht-Paradyskloof stedelike uitbreiding sou die teenoorgestelde bewerkstellig.”

Volgens die Stellenbosch-munisipaliteit is hy weens ontwikkelings binne Paradyskloof verplig om die gevaarlike Paradyskloofweg se noorddraai-aksie op die R44 te sluit deur die R44-middelmannetjie toe te maak.

“Daar is tans ’n dispuut oor die verlenging van Schuilplaatspad en daar kan dus nie verder kommentaar gelewer word tot die proses voltooi is nie.

“’n Oostelike koppelpad (Eastern Link Road) is nie op die kaarte nie en daar is ook nie daarvoor begroot nie,” was Mart-Marié Haasbroek, munisipale woordvoerder, se kommentaar.

Vir meer inligting besoek docs.html